Rekords spat by eerste wildveilings

VAALWATER - Mapatamacha wildsentrum tussen Vaalwater en Melkrivier het die wildsveilingseisoen goed afgeskop met twee suksesvolle veilings direk na mekaar. In dié maatskappy se eerste veiling op 26 Maart 2011 is 2 SA Rekords behaal vir teeltroppe met rooibokooie wat R2700 stuk gehaal het en koedoe familiegroepe wat 4800 stuk gehaal het. ‘n Rooibokram het vir R7250 verkoop.
  ‘n Livingston Eland is vir R45 000 verkoop, ‘n koedoebul vir R22 000, 4-5 jaar oue renosters is verkoop vir R350 000 stuk en kameelperde vir tot R21 000.
  ‘Met ‘n omset van R9,1 miljoen was dit seker ons beste veiling nog,’ sê Marietjie Keyter van Mapatamacha.


  Maar verlede naweek het die wildsentrum sy tweede veiling van die jaar in samewerking met Vleissentraal Bosveld aangebied en weer is alle verwagtinge oortref.
   Tydens verlede Saterdag se veiling is Blesbok teelgroepe verkoop teen R1840 stuk, Eland bulle tot R13 500 en Blouwildebees teelgroepe tot R6000.
‘Ons is baie tevrede en sien uit na ons volgende veiling op 30 April,’ sê Marietjie. Sy noem ook dat een van die hoogtepunte van die jaar, die produksieveiling van Shambala Privaat Natuur Reservaat  en wildteelsentrum, op 7 Mei by Mapatamacha aangebied gaan word.
  ‘Ons is baie opgewonde hieroor, almal ken Shambala se kwaliteit diere en omdat hulle net elke twee jaar ‘n produksieveiling hou is dit een van die wildbedryf se mees gesogde veilings,’ sê Marietjie. – LiN Nuus/Bosveld Bulletin

News

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first